Het jy geweet dat daar maar net 14 verskillende kalenders vir enige jaar ooit is? Dis nou as mens kyk na die dae van die week waarop enige dag van die jaar sal val en die algemene moderne Westerse kalender gebruik (die sogenaamde Gregoriaanse een). Byvoorbeeld, ’n almanak van 2009 sal weer oor ses jaar, in 2015, herbenut kan word — natuurlik kan sommige vakansiedae en ander goed wat iets met die maan te doen het wel verskil (soos veral rondom paasnaweek en byvoorbeeld volmaan en halfmaan, wat in elk geval van plek tot plek op die aarde kan verskil). Maar vir 2009 en 2015, net soos vir die jaar 1998 of 2026, sal Januarie op ’n Donderdag begin, Februarie sal weer net 28 dae hê sodat beide Februarie en Maart op Sondae begin, en jy sal ook op dieselfde weeksdag verjaar. Net so lyk 2010 se kalender dieselfde as in 1999 of 2021. (Meer besonderhede in die tabel.)