My Aanlyn Speltoetser

[Ook beskikbaar in Engels: Also available in English.]

Uiteindelik is ek klaar met hierdie speltoetser sodat dit op my webwerf beskikbaar gestel kan word. Hierdie was die eerste klein projekkie wat ek gedefinieer het om my persoonlike webwerf te begin en ek dink dit het op die ou einde lekker uitgewerk. Vir 'n wyle sal hierdie basies die enigste funksionaliteit wees wat publiek op hierdie werf beskikbaar sal wees, maar daar is heelwat ander idees wat mettertyd behoort te materialiseer soos wat hierdie webwerf groei (as ek tyd daarvoor kan maak).

Die groot dryf agter hierdie strewe was om 'n aanlyn speltoetser vir Afrikaans daar te stel. Alhoewel speltoetsers vir Engels geredelik beskikbaar is in teks redigering sagteware kan 'n mens nie dieselfde vir Afrikaans sê nie (wat ook 'n probleem is vir meeste ander tale wat op hierdie planeet gebruik word). En so is die Afrikaanse speltoetser gebore, en as 'n ekstra pasella het die Engelse speltoetser ook sommer met min addisionele moeite bygekom.

Ek het nogal heelwat in die proses bygeleer, veral wanneer dit kom by die gebruik van nie-Engelse teks karakters en hoe om dit op 'n konsekwente manier voor te stel (soos byvoorbeeld die karakters in “môre”, “één”, “skêr”, “òf”, “reël”, “lêer”, en so aan). Nou is ek net mal oor die towerkuns van UTF-8 karakter enkodering en gebruik dit deurgaans op hierdie webwerf. Aai, dat 'n mens so liries kan raak oor eenvoudige tegnologie mag jou dalk as 'n ingenieur weggee.

Wat die bruikbaarheid betref is die speltoetser getoets met Mozilla se Firefox 1.0 webblaaier, maar ek het ook seker gemaak dat dit darem werk met Microsoft se Internet Explorer 6.0 vir diegene wat van niks beter weet nie (wees rustig, jy sal mettertyd daarvan uitvind – en dalk sal dit help om te weet dat Firefox ook 'n Afrikaanse weergawe het). Nietemin, dit behoort hopelik ook te werk met ander onlangse webblaaiers, solank jy nie die JavaScript of koekie funksionaliteit gaan staan en afsit het nie.

Nou ja, gaan probeer gerus die Afrikaanse speltoetser (of selfs die Engelse een). Ek hoop jul sal my entoesiasme hiervoor deel.

NS: Gaan lees nog meer oor hierdie Afrikaanse Speltoetser op die Internet.

Kommentare

Webblaaier bruikbaarheid

Volgens Samuel Murray werk die speltoetser mooi in Opera 8.02. Indien jy van ander webblaaiers weet waarin die speltoetser (insluitend die voorstelle-funksie) werk, vul gerus die lys aan.

Gratis aflyn Afrikaanse speltoetser

Indien jy ook soek na 'n aflaaibare gratis Afrikaanse speltoetser, lees gerus hierdie bladsy op my webwerf.