Stuur Epos vanaf jou Vodacom Selfoon

Het jy geweet, as jy ’n Vodacom selfoon gebruiker in Suid-Afrika is kan jy ook ’n epos na iemand vanaf jou foon stuur? Hierdie is veral handig vir persone wat nie maklik toegang tot die Internet het nie maar tog met familie of vriende wat epos kan ontvang wil kommunikeer. Daar is twee maniere wat ek hier bespreek om ’n epos vanaf jou Vodacom selfoon te stuur, naamlik deur van die SMS of MMS metodes gebruik te maak. Selfs ouer fone sal die SMS metode kan gebruik, maar as jy ’n nuwer sellulêre telefoon het wat ook MMS boodskappe kan stuur sal jy selfs foto’s saam met jou teks boodskap na iemand kan epos.

Vir die SMS tegniek om ’n epos vanaf jou selfoon te stuur, begin met ’n nuwe SMS boodskap waarin jy eerstens die epos adres van die ontvanger in die teks veld intik. Die epos adres volg jy dan op met ’n spasie karakter en die res van die boodskap wat per epos gestuur moet word (byvoorbeeld: tiaan@example.com Hallo Tiaan. Ek kan ook epos stuur! Groete). Stuur dan hierdie SMS na die volgende nommer: 0820004004. Jou boodskap word dan aangestuur na die ontvanger se eposbus met ’n onderwerp van “Grapevine Interactive SMS to Email Service”. Terloops, hierdie boodskap kom vanaf ’n epos adres in die formaat 2782xxxxxx@sms.vine.co.za by die ontvanger uit waar die eerste deel van die adres jou eie selfoon nommer verteenwoordig – op ’n manier bied Vodacom dus hierdie diens tans saam met Grapevine Interactive.

Vir die MMS na epos metode stuur jy net soos gewoonlik ’n MMS boodskap vanaf jou selfoon (wat jou teks boodskap en ’n foto kan insluit), maar jy stuur die boodskap eerder na die ontvanger se epos adres (byvoorbeeld, tik iets soos tiaan@example.com vir die ontvanger se besonderhede in) in plaas daarvan om die MMS soos normaalweg na ’n selfoon nommer te stuur. Hierdie MMS beland dan as ’n standaard epos boodskap in die ontvanger se eposbus. Vodacom gee selfs besonderhede in die epos van hoe die ontvanger weer een gratis MMS na jou kan terug stuur (wat ook weer ’n foto van die ander rigting kan insluit). Dit werk nogal heel oulik.

Nota: Beide hierdie SMS en MMS metodes is op 28 April 2008 getoets en dit het toe reg gewerk. Soos met baie ander elektroniese goed breek dinge op ’n stadium – hopelik hou Vodacom nog vir ’n lang ruk aan om hierdie diens te ondersteun. Die oorspronklike inligting het ek op Vodacom se “More Than Just Talk” webblad gekry (soek vir die sleutelwoorde “SMS to Email”, “LongMessage” en “PhotoMessage” vir meer inligting).

Kommentare

Vir MTN selfoon gebruikers...

Soortgelyke SMS-na-epos funksionaliteit is ook beskikbaar vir MTN selfoon gebruikers in Suid-Afrika. Lees gerus hierdie berig vir meer besonderhede.