As deel van die opknapping van Tiaan.com is die aanlyn speltoetser ook opgedateer, soos uitgebeeld in hierdie vóór en ná skerm skote, en hieronder verder beskryf word.


Behalwe vir die ooglopende verskil in voorkoms van die nuwe tema en kleurskema, kan die volgende opgemerk word.
- Addisioneel tot die Afrikaanse en Engelse woordeboeke wat reeds voorheen beskikbaar was, sluit die taalkeuse nou Frans, Nederlands (d.w.s., Hollands), Spaans, Swahili en Zoeloe in.
- Die woordeboek wat deur die Afrikaanse speltoetser gebruik word, is opgegradeer na die Januarie 2006 uitgawe wat deur Translate.org.za vrygestel is (voorheen was die Julie 2004 weergawe gebruik). Hierdie behoort oor die algemeen beter voorstellings vir verkeerdgespelde woorde tot gevolg te hê en meer reggespelde woorde behoort herken te word.
- Die veld waar mens teks intik (wat gespeltoets moet word) se wydte word nou outomaties verstel saam met die webblaaier om die beskikbare spasie op wyer skerms beter te benut. Die hoogte kan nou ook per hand aangepas word; gryp eenvoudig net die handvatsel aan die onderkant van die teks boks en verstel die grootte soos jy met enige ander venster sal doen.
Die woordeboek wat vir die Zoeloe speltoetsing gebruik word, het in die besonder steeds ’n redelike beperkte woordeskat, maar dit is goed genoeg vir ’n eerste vrystelling. Gebruikers wat graag verbeteringe in hierdie verband wil sien, word aangemoedig om by die doenighede van Translate.org.za betrokke te raak. Vir diegene wat nie weet nie, hierdie sonder-winsbejag organisasie werk aan ondersteuning van Suid-Afrika se elf amptelike tale in oop-bron (Open Source) sagteware; dus geld dieselfde vir toekomstige verbeteringe aan die Afrikaanse speltoetser se woordelys òf om soortgelyke gratis speltoetsers vir die oorblywende Suid-Afrikaanse tale tot stand te bring (wat steeds vêr agter is).
Intussen, geniet die nuwe funksionaliteit van die opgedateerde gratis speltoetser vandag!
Kommentare
Jou speltoetser is
Jou speltoetser is fantasties, ek gebruik dit gereeld. Dankie
Fantastiese speltoetser
Dankie