Stuur Epos vanaf jou MTN Selfoon

’n Ruk terug het ek vertel hoe enige Vodacom gebruiker vanaf sy of haar selfoon ’n epos kan stuur (lees hierdie vorige berig vir besonderhede). Soortgelyke funksionaliteit is ook vir MTN selfoon gebruikers in Suid-Afrika beskikbaar. Dit wil egter voorkom of mens slegs die SMS metode kan gebruik en dat daar nie ’n MMS ekwivalent op die MTN netwerk beskikbaar is nie (in teenstelling met Vodacom se MMS diens wat mens ook in staat stel om foto’s by die epos in te sluit). Nietemin bied MTN darem die basiese SMS2Email diens waarmee jy ’n SMS kan intik en dit dan na iemand se epos adres kan stuur. Hier volg hoe jy dit kan doen...

MTN se SMS tegniek om ’n epos vanaf jou selfoon te stuur is bykans identies aan hoe mens dit op die Vodacom netwerk sou doen; dis net die standaard selfoon nommer waarheen jy die SMS stuur wat anders is. Dus, begin met ’n nuwe SMS boodskap waarin jy eerstens die epos adres van die ontvanger in die teks veld intik. Die epos adres volg jy dan op met ’n spasie karakter en die res van die boodskap wat per epos gestuur moet word. Byvoorbeeld:

tiaan@example.com Hallo Tiaan. Ek kan ook epos stuur! Groete, Ekke.

Stuur dan hierdie SMS na die volgende nommer: 0831236245 (wat staan vir “083 123 MAIL”). Jou boodskap word dan aangestuur na die ontvanger se eposbus met ’n onderwerp van “MTN Mobile-mail”. Verder kom hierdie boodskap dan vanaf ’n epos adres in die formaat 2773xxxxxx@sms.co.za by die ontvanger uit waar die eerste deel van die adres jou eie MTN selfoon nommer verteenwoordig – hierdie diens word skynbaar self deur Mobile Telephone Networks (MTN) aangebied. Dis ook lekker dat MTN die epos ontvanger toelaat om te reageer met ’n terugvoer epos (maar slegs 130 karakters) wat dan weer as ’n SMS op die oorspronklike versender se selfoon vertoon word. By Vodacom word laasgenoemde funksionaliteit nie saam met hulle SMS metode ondersteun nie, maar hulle het wel iets soortgelyks met hul MMS metode. Die twee selfoon diensverskaffers se benaderings rondom epos oplossings verskil dus effens.

Indien jy dalk weet van ’n soortgelyke MMS-na-epos diens op die MTN netwerk, laat weet gerus.