Aksente, Deeltekens en Kappies in Windows

Letters met aksente, deeltekens en kappies.Aangesien woorde in Afrikaans gereeld gebruik maak van letters met aksente, deeltekens, kappies en so meer (d.w.s. met diakritiese tekens), en omdat heelwat rekenaars nie sleutelborde het waarop hierdie letters voorkom nie, kan die tik van Afrikaans soms ’n beslommernis wees. Daar bestaan egter ’n tegniek wat mens vir hierdie spesiale karakters kan gebruik op meeste rekenaars waarop Microsoft Windows bedryfstelsels hardloop, boonop sonder enige verdere sagteware of konfigurasie. Die tegniek maak gebruik van karakter nommers (ook bekend as karakter kodes) wat mens intik op die numeriese toetsbordjie terwyl mens die Alt knoppie ook inhou (d.w.s. mens gebruik die regterkantse deel van die sleutelbord wat soos ’n sakrekenaar lyk, met NumLock ook aangeskakel, en tik die nommers met jou regterhand daarop in terwyl jou linkerhand een van die Alt knoppies inhou). Sodra mens die kode klaar ingetik het en daarna die Alt knoppie weer laat los, sal die ooreenstemmende karakter van hierdie Alt-kode verskyn in die program waarin jy werk. Die besonderhede van die kodes word hieronder verder bespreek.

Daar bestaan twee groepe Alt-kodes, naamlik die “ANSI” nommers (wat altyd met ’n nul begin) en die “OEM” nommers (wat nooit met ’n nul begin nie). Mens het altyd een stel van elke groep tot mens se beskikking en kan van beide groepe se kodes gebruik maak, maar afhangend van hoe ’n rekenaar opgestel is, sal die betekenis van die nommers in elke groep verskil (om presies te wees, die rekenaar se “system locale” bepaal die ooreenstemmende waardes van die karakters). Gelukkig is die kans baie goed dat meeste van ons net op Westerse rekenaars sal werk en dat die ANSI nommers op al hierdie rekenaars dieselfde sal wees (onderliggend gebruik die ANSI groep normaalweg die “Windows-1252” karakter enkodering). Bykans al die letters vir Afrikaans kan met hierdie ANSI Alt-kodes verkry word en vir meeste Afrikaanse persone sal dit normaalweg voldoende wees. Verwys na die tabel aan die onderkant vir die nommers wat gebruik kan word: die karakter teks word in die eerste kolom gelys, gevolg deur die tipiese ANSI Alt-kodes in die tweede kolom. Byvoorbeeld, as mens ’n kleinletter E met ’n kappie wil hê, dan druk mens een van die Alt sleutels en hou dit in, tik dan 0234 op die numeriese toetsbordjie in (nie die gewone nommers van die boonste ry sleutels nie), los dan die Alt knoppie en jy kry jou ê-letter. Mens kan selfs die voorkeur afkappingsteken vir die onbepaalde lidwoord, ’n, so met die ANSI Alt-kode 0146 kry, asook simbole vir geldeenhede soos £ en €, of selfs die grade teken van temperatuur en hoeke (byvoorbeeld 21°C en 180°).

Tussen die twee tipes Alt-kode groepe is daar ’n sekere mate van oorvleueling, met die gevolg dat daar in die OEM groep ook alternatiewe kodes (wat normaalweg korter is) vir heelwat van die ANSI kodes bestaan. Die OEM groep mag ook addisionele simbole bevat wat nie met ANSI kodes bekom kan word nie (en anders om). Die derde en vierde kolomme van die tabel lys die Alt-kodes van twee moontlike OEM groepe wat mens tipies behoort teë te kom. As die rekenaar opgestel is vir die kultuur “English (South Africa)” of “English (United States)”, dan sal die “IBM437” OEM kolom van toepassing wees. Die alternatiewe “IBM850” OEM kolom geld onder andere vir kultuur opstellings soos die volgende: “Afrikaans (South Africa)”, “English (Australia)”, “English (Canada)”, “English (New Zealand)”, “English (United Kingdom)”, “isiXhosa (South Africa)”, “isiZulu (South Africa)”, “Sesotho sa Leboa (South Africa)”, “Setswana (South Africa)” en selfs vir “Spanish (United States)”. Mens kan dus tipies ook die korter OEM Alt-kode 136 as ’n alternatief vir die ê-letter gebruik. Op ’n rekenaar wat die “IBM437” OEM Alt-kodes gebruik het mens dus ook maklik toegang tot ’n klompie ekstra wiskundige simbole en Griekse letters. Daarenteen bied die “IBM850” OEM Alt-kodes in die praktyk vir mens bykans niks ekstra nie — behalwe as jy dink dat ’n i-letter sonder ’n kolletjie oulik is, naamlik ı, in welke geval jy kode 213 op so ’n rekenaar kan gebruik; en dit bring my tot die punt dat daar wel so paar Alt-kodes is wat ek nie by die lys ingesluit het nie, maar hulle is van min praktiese waarde.

Ter opsomming, twee van die drie Alt-kode kolomme in die tabel behoort op meeste rekenaars te werk om jou Afrikaanse tikwerk met kolletjies en strepies in te kleur; die ANSI kolom behoort altyd een te wees wat werk. Hou gerus die tabel byderhand of memoriseer jou gunsteling karakters se nommers (dis nou vir daardie aande wanneer jy nie kan slaap nie, in plaas daarvan om skape te tel).

Teks ANSI Alt-kode “Windows 1252” OEM Alt-kode “IBM850” OEM Alt-kode “IBM437” Unicode Beskrywing
à 0224 133 133 U+00E0 Latynse kleinletter A met gravisteken
á 0225 160 160 U+00E1 Latynse kleinletter A met akuutteken
â 0226 131 131 U+00E2 Latynse kleinletter A met kappie
ä 0228 132 132 U+00E4 Latynse kleinletter A met deelteken
À 0192 183   U+00C0 Latynse hoofletter A met gravisteken
Á 0193 181   U+00C1 Latynse hoofletter A met akuutteken
 0194 182   U+00C2 Latynse hoofletter A met kappie
Ä 0196 142 142 U+00C4 Latynse hoofletter A met deelteken
æ 0230 145 145 U+00E6 Latynse kleinletter AE (d.w.s. kleinbindsel van A en E)
Æ 0198 146 146 U+00C6 Latynse hoofletter AE (d.w.s. hoofbindsel van A en E)
ç 0231 135 135 U+00E7 Latynse kleinletter C met cedilla (of cédille)
Ç 0199 128 128 U+00C7 Latynse hoofletter C met cedilla (of cédille)
è 0232 138 138 U+00E8 Latynse kleinletter E met gravisteken
é 0233 130 130 U+00E9 Latynse kleinletter E met akuutteken
ê 0234 136 136 U+00EA Latynse kleinletter E met kappie
ë 0235 137 137 U+00EB Latynse kleinletter E met deelteken
È 0200 212   U+00C8 Latynse hoofletter E met gravisteken
É 0201 144 144 U+00C9 Latynse hoofletter E met akuutteken
Ê 0202 210   U+00CA Latynse hoofletter E met kappie
Ë 0203 211   U+00CB Latynse hoofletter E met deelteken
ì 0236 141 141 U+00EC Latynse kleinletter I met gravisteken
í 0237 161 161 U+00ED Latynse kleinletter I met akuutteken
î 0238 140 140 U+00EE Latynse kleinletter I met kappie
ï 0239 139 139 U+00EF Latynse kleinletter I met deelteken
Ì 0204 222   U+00CC Latynse hoofletter I met gravisteken
Í 0205 214   U+00CD Latynse hoofletter I met akuutteken
Î 0206 215   U+00CE Latynse hoofletter I met kappie
Ï 0207 216   U+00CF Latynse hoofletter I met deelteken
ñ 0241 164 164 U+00F1 Latynse kleinletter N met tilde
Ñ 0209 165 165 U+00D1 Latynse hoofletter N met tilde
ò 0242 149 149 U+00F2 Latynse kleinletter O met gravisteken
ó 0243 162 162 U+00F3 Latynse kleinletter O met akuutteken
ô 0244 147 147 U+00F4 Latynse kleinletter O met kappie
ö 0246 148 148 U+00F6 Latynse kleinletter O met deelteken
Ò 0210 227   U+00D2 Latynse hoofletter O met gravisteken
Ó 0211 224   U+00D3 Latynse hoofletter O met akuutteken
Ô 0212 226   U+00D4 Latynse hoofletter O met kappie
Ö 0214 153 153 U+00D6 Latynse hoofletter O met deelteken
ø 0248 155   U+00F8 Latynse kleinletter O met streep (oftewel deurgehaal)
Ø 0216 157   U+00D8 Latynse hoofletter O met streep (oftewel deurgehaal)
œ 0156     U+0153 Latynse kleinbindsel OE (Latynse kleinletter O E)
Œ 0140     U+0152 Latynse hoofbindsel OE (Latynse hoofletter O E)
ù 0249 151 151 U+00F9 Latynse kleinletter U met gravisteken
ú 0250 163 163 U+00FA Latynse kleinletter U met akuutteken
û 0251 150 150 U+00FB Latynse kleinletter U met kappie
ü 0252 129 129 U+00FC Latynse kleinletter U met deelteken
Ù 0217 235   U+00D9 Latynse hoofletter U met gravisteken
Ú 0218 233   U+00DA Latynse hoofletter U met akuutteken
Û 0219 234   U+00DB Latynse hoofletter U met kappie
Ü 0220 154 154 U+00DC Latynse hoofletter U met deelteken
ý 0253 236   U+00FD Latynse kleinletter Y met akuutteken
ÿ 0255 152 152 U+00FF Latynse kleinletter Y met deelteken
Ý 0221 237   U+00DD Latynse hoofletter Y met akuutteken
Ÿ 0159     U+0178 Latynse hoofletter Y met deelteken
  0160 255 255 U+00A0 geen-breek spasie (ongebroke spasie)
­ 0173 240   U+00AD sagte koppelteken (diskresionêre koppelteken)
- 045 45 45 U+002D koppelteken-minus
0150     U+2013 en streep
0151     U+2014 em streep
| 0124 124 124 U+007C vertikale lyn (vertikale stafie)
¦ 0166 221   U+00A6 gebroke stafie (gebroke vertikale stafie)
0145     U+2018 linkerkantse enkel aanhalingsteken (enkele gestemde komma aanhalingsteken)
0146     U+2019 regterkantse enkel aanhalingsteken (enkele komma aanhalingsteken); ook vir gebruik as afkappingsteken soos in die onbepaalde lidwoord: ’n
0130     U+201A enkele lae-9 aanhalingsteken (lae enkel komma aanhalingsteken)
0147     U+201C linkerkantse dubbel aanhalingsteken (dubbele gestemde komma aanhalingsteken)
0148     U+201D regterkantse dubbel aanhalingsteken (dubbele komma aanhalingsteken)
0132     U+201E dubbele lae-9 aanhalingsteken (lae dubbel komma aanhalingsteken)
¹ 0185 251   U+00B9 boskrif een (boskrif getal een)
² 0178 253 253 U+00B2 boskrif twee (boskrif getal twee)
³ 0179 252   U+00B3 boskrif drie (boskrif getal drie)
¼ 0188 172 172 U+00BC platvloerse breuk een kwart (breuk een kwart)
½ 0189 171 171 U+00BD platvloerse breuk een halwe (breuk een helfte)
¾ 0190 243   U+00BE platvloerse breuk driekwart (breuk drie kwarte)
« 0171 174 174 U+00AB linkswysende dubbelhoek aanhalingsteken (linkswysende guillemet)
» 0187 175 175 U+00BB regswysende dubbelhoek aanhalingsteken (regswysende guillemet)
    247 U+2248 ongeveer gelyk aan
    240 U+2261 identies aan
    243 U+2264 kleiner-as of gelyk-aan
    242 U+2265 groter-as of gelyk-aan
± 0177 241 241 U+00B1 plus-minus teken (plus-of-minus teken)
× 0215 158   U+00D7 vermenigvuldigingsteken
÷ 0247 246 246 U+00F7 gedeel-deur teken
    249 U+2219 koeël operator (d.w.s. die vektor puntproduk; onderskei van die verwante puntproduk vir skalaar vermenigvuldiging: ⋅, U+22C5)
0149 7 7 U+2022 koeël (gebruik vir items in ’n lys)
· 0183 250 250 U+00B7 middel kol (byvoorbeeld histories gebruik as desimale punt, veral met Britse pond)
° 0176 248 248 U+00B0 grade teken (byvoorbeeld vir geometriese hoeke of vir temperatuur in °C en °F)
    236 U+221E oneindig
0133     U+2026 horisontale ellips
µ 0181 230 230 U+00B5 mikroteken
α     224 U+03B1 Griekse kleinletter alfa
Γ     226 U+0393 Griekse hoofletter gamma
δ     235 U+03B4 Griekse kleinletter delta
Θ     233 U+0398 Griekse hoofletter feta
π     227 U+03C0 Griekse kleinletter pi
Σ     228 U+03A3 Griekse hoofletter sigma
σ     229 U+03C3 Griekse kleinletter sigma
τ     231 U+03C4 Griekse kleinletter tau
φ     237 U+03C6 Griekse kleinletter phi
Φ     232 U+03A6 Griekse hoofletter phi
Ω     234 U+03A9 Griekse hoofletter omega
ε     238 U+03B5 Griekse kleinletter epsilon
0128     U+20AC euro teken
£ 0163 156 156 U+00A3 pond teken
¥ 0165 190 157 U+00A5 yen teken
¢ 0162 189 155 U+00A2 sent teken
¤ 0164 207   U+00A4 geldeenheid teken
§ 0167 245 & 21 21 U+00A7 afdeling teken
0182 244 & 20 20 U+00B6 paragraaf teken
© 0169 184   U+00A9 kopiereg teken
® 0174 169   U+00AE registrasie merk (geregistreerde handelsmerk teken)
0153     U+2122 handelsmerk teken (handelsmerk)
0134     U+2020 dolk
0135     U+2021 dubbeldolke
  17 17 U+25C4 swart linkswysende aanwyser (swart aanwyser na links)
  16 16 U+25BA swart regswysende aanwyser (swart aanwyser na regs)
  30 30 U+25B2 swart opwysende driehoek (swart driehoek met punt na bo)
  31 31 U+25BC swart afwysende driehoek (swart driehoek met punt na onder)
  27 27 U+2190 linkswaartse pyl (pyl na links)
  26 26 U+2192 regswaartse pyl (pyl na regs)
  24 24 U+2191 opwaartse pyl (pyl na bo)
  25 25 U+2193 afwaartse pyl (pyl na onder)

Kommentare

Aksente, Deeltekens en Kappies in Windows

Baie dankie vir hierdie nuttige informasie.

Mens leer elke dag iets nuuts!

Op 'n laptop

Ek kry dit nie om te werk op 'n laptop nie. Ek het 'n USB mini keypad & dit werk ook nie daarmee nie.

Gebruik die FN-knoppie

@Anoniem: Selfs op ’n skootrekenaar behoort hierdie tegniek gewoonlik te kan werk, maar dit kan bietjie moeiliker daarop wees om dit reg te kry. Op hierdie soort rekenaars is daar normaalweg ’n ekwivalent van die numeriese toetsbordjie wat gebruik moet word; soms is daar ’n alternatiewe uitleg gedruk bo-oor die M, J, K, L, U, I, O, 7, 8 en 9 knoppies (of elders), maar die geheim lê daarin om ook die ekstra funksie knoppie te gebruik (dis normaalweg ’n knoppie met Fn gemerk, tipies links-onder langs die Ctrl knoppie). Byvoorbeeld, om die ê-letter te kry sal jy moontlik die volgende moet doen: druk Fn en Alt (en hou beide gelyktydig in), tik dan MKLU (in plaas van 0234) en laat los dan Alt (die Fn knoppie kan normaalweg die heeltyd ingehou word as jy meer as een Alt-kode na mekaar wil intik). Maar mens moet ook aandag skenk aan die NumLock knoppie se toestand en so bietjie met alternatiewe kombinasies rondspeel vir die spesifieke skootrekenaar; probeer dit byvoorbeeld eers met NumLock afgesit, en dan met NumLock aangeskakel. Soms moet mens ook die Fn knoppie gebruik om NumLock van toestand te laat verander, met die gevolg dat jy dalk nie eers meer Fn moet gebruik nadat jy NumLock aangesit het op so rekenaar nie. Wat die klein eksterne USB numeriese toetsbordjie betref, ek is nie seker of dit daarop sal werk nie, maar maak dalk net dubbel seker NumLock is ook daarop aangesit.

Baie dankie

Baie dankie, ek het dit reggekry om te werk met die FN-knoppie op die skootrekenaar soos hierbo beskryf, maar die klein eksterne USB numeriese toetsbordjie wil nie saamspeel.
Groete.

ek wonder al lank

ek wonder al lank - wou graag weet, want ek is mal oor die kodes en gebruik dit baie - of het in elkgeval, voordat ek meesal net op 'n "laptop" begin werk het

Gebruik 'n uitleg wat hiervoor bedoel is

Om kappies, ens. te tik, is dit regtig die beste om 'n sleutelborduitleg te gebruik wat bedoel is vir tik. Dit Alt-kodes is vir buitengewone, vreemde, ongebruikte dinge.

Kyk gerus na Translate.org.za se Suid-Afrikaanse sleutelborduitleg:
http://translate.org.za/content/view/24/41/lang,af/

Mens kan ook die internasionale Amerikaanse uitleg gebruik vir Afrikaans (maar die vir die ander Suid-Afrikaanse tale nie).

Hiermee hoef mens nie 4-5 knoppies te gebruik om een letter te tik nie.