Het jy geweet dat daar maar net 14 verskillende kalenders vir enige jaar ooit is? Dis nou as mens kyk na die dae van die week waarop enige dag van die jaar sal val en die algemene moderne Westerse kalender gebruik (die sogenaamde Gregoriaanse een). Byvoorbeeld, ’n almanak van 2009 sal weer oor ses jaar, in 2015, herbenut kan word — natuurlik kan sommige vakansiedae en ander goed wat iets met die maan te doen het wel verskil (soos veral rondom paasnaweek en byvoorbeeld volmaan en halfmaan, wat in elk geval van plek tot plek op die aarde kan verskil). Maar vir 2009 en 2015, net soos vir die jaar 1998 of 2026, sal Januarie op ’n Donderdag begin, Februarie sal weer net 28 dae hê sodat beide Februarie en Maart op Sondae begin, en jy sal ook op dieselfde weeksdag verjaar. Net so lyk 2010 se kalender dieselfde as in 1999 of 2021.
Die rede waarom daar veertien kalenders in totaal is, is dat dit die kombinasie van die sewe dae van ’n week saam met die twee moontlikhede van ’n skrikkeljaar of gewone jaar is: dus, sewe maal twee. Dis die maklike deel om uit te pluis, maar dis bietjie moeiliker om te weet presies watter jare dieselfde kalenders gebruik. Dit is egter waar die onderstaande tabel inkom waarin ’n klompie onlangse en toekomstige jare gelys word. Die 14 kalenders word aangedui met die alfabetiese letters A tot N, een vir elk van die rye in die tabel.
| # |
Kalender Jare |
| A |
1970 |
1981 |
1987 |
1998 |
2009 |
2015 |
2026 |
2037 |
2043 |
2054 |
| B |
1974 |
1985 |
1991 |
2002 |
2013 |
2019 |
2030 |
2041 |
2047 |
2058 |
| C |
1979 |
1990 |
2001 |
2007 |
2018 |
2029 |
2035 |
2046 |
2057 |
2063 |
| D |
1971 |
1982 |
1993 |
1999 |
2010 |
2021 |
2027 |
2038 |
2049 |
2055 |
| E |
1977 |
1983 |
1994 |
2005 |
2011 |
2022 |
2033 |
2039 |
2050 |
2061 |
| F |
1978 |
1989 |
1995 |
2006 |
2017 |
2023 |
2034 |
2045 |
2051 |
2062 |
| G |
1975 |
1986 |
1997 |
2003 |
2014 |
2025 |
2031 |
2042 |
2053 |
2059 |
| H |
1888 |
1928 |
1956 |
1984 |
2012 |
2040 |
2068 |
2096 |
2108 |
2136 |
| I |
1904 |
1932 |
1960 |
1988 |
2016 |
2044 |
2072 |
2112 |
2140 |
2168 |
| J |
1924 |
1952 |
1980 |
2008 |
2036 |
2064 |
2092 |
2104 |
2132 |
2160 |
| K |
1908 |
1936 |
1964 |
1992 |
2020 |
2048 |
2076 |
2116 |
2144 |
2172 |
| L |
1920 |
1948 |
1976 |
2004 |
2032 |
2060 |
2088 |
2128 |
2156 |
2184 |
| M |
1912 |
1940 |
1968 |
1996 |
2024 |
2052 |
2080 |
2120 |
2148 |
2176 |
| N |
1916 |
1944 |
1972 |
2000 |
2028 |
2056 |
2084 |
2124 |
2152 |
2180 |
Vir die jaar 2009 word kalender A gebruik (d.w.s. die eerste ry), wat toevallig een van die twee kalenders is wat die meeste voorkom: beide kalenders A en B word gemiddeld omtrent een keer elke 9.1 jaar gebruik — of meer presies, 44 keer elke 400 jaar (waarna die patroon weer van voor af begin). Soortgelyk word kalenders C tot G die tweede meeste gebruik (naamlik gemiddeld een keer elke 9.3 jaar), kalenders H en I heelwat minder met ’n gemiddelde interval van 26.7 jaar, kalenders J en K elke 28.6 jaar, en kalenders L tot N word die minste gebruik (gemiddeld slegs een keer omtrent elke 30.8 jaar; dis slegs 13 keer elke 400 jaar). Die kortste tyd tussen die hergebruik van ’n spesifieke kalender is ses jaar (soos byvoorbeeld vir kalender A tussen 2009 en 2015) en die langste wagtyd kan tot 40 jaar wees (soos byvoorbeeld vir kalender I tussen 2072 en 2112).
So, dink twee keer voordat jy jou gunsteling kalender weggooi aan die einde van die jaar. Of dalk het jy gedink jy sal nooit daardie ou kalender kan gebruik wat jy present gekry het maar toe vergeet het om op te hang te nie, maar nou weet jy van beter. Aan die ander kant, die oorhoofse gemiddelde wagtyd vir al die kalenders werk uit op ook 14 jaar oor die lang duur, wat dalk bietjie lank is in vergelyking met die tempo waarteen party mense se smaak verander. Maar miskien, nou dat jy weet jaarlikse kalenders kan meer as een keer gebruik word of dalk weer daaraan herinner is, kan jy sommer self ’n klompie mooi tydlose en herbruikbare almanakke maak.